Sunday 27 April 2014

AKTEUR ONDERHOUD: ALBERT MARITZ deur Anna Grace


Albert Maritz is bekend op radio, die verhoog, televisie en ook  films, nasionaal en internasionaal. Hy is ook bekend as regisseur  en regisseer en vervaardig in 1996, sy eerste professionele produksie vir televisie: “Groot, groter as.... van N.P. Van Wyk Louw”. Maritz het al in verskeie films verskyn onder andere Invictus, Skoonheid, Verraaiers en The Color of Freedom. Hy het ook in televisie-reekse verskyn soos Donkerland, Vloeksteen, Arende en Vallei van die Sluiers. Ek het vir hom ‘n paar vrae gevra oor sy rol in die toneelbedryf.

Wat is jou gunsteling fliek?
Albert Maritz: Daar kom elke paar jaar 'n fliek oor mens se pad wat mooi verfilm is, 'n sterk storie het, sommer goeie akteursspel ook het en die magiese IETS wat mens se lewe aanraak. So 'n fliek is vir my Slum Dog Millionaire, The Life of PI, Philomena en Quartet en ook Pad na jou hart.

Na watter musiek luister jy op die oomblik?
AM: Ek speel deur al my ou kassette en daar is Art Garfunkel, Supertramp, Police en baie ander daarin.

Wat is jou gunsteling tydverdryf?
AM: Ek is mal oor lees en kry regtig min tyd daarvoor, fliek ook en oefen. Tans kry ek dit reg om heelwat fiets te ry en een keer per week skopboks ek in 'n groepklas.

Watter sport kyk/ speel jy graag?
AM: Ek kyk graag rugby, krieket, atletiek, swem en boks - veral as ek kan kant kies. As Suid-Afrikaners selfs gholf speel teen ander lande, kyk ek. Self hou ek van touch rugby, paddleski en sal ek enige iets probeer speel.

As jy enige ander talent kon hê, wat sou dit gewees het?
AM: Om instrumente te speel. Ek het 'n baie goeie oor vir musiek, maar kon nie musiek leer speel nie.

Wat het jou laat besluit om toneel te speel?
AM: Ek is aanvaar by die Universiteit van Kaapstad om 'n kombinasiegraad te volg met wetenskap en tale, maar toe kies ek om 'n drama onderwysgraad op Stellenbosch te doen. Dit was na die weermag en ek en my skoolpelle was verwyder van mekaar vir 2 jaar. Toe ek na universiteit 'n aanbod kry van Marius Weyers om by TRUK te werk, was die koeël deur die kerk. Ek het my HOD deur UNISA voltooi.

Wie het jou geïnspireer om die bedryf te volg?
AM: Ek het baie tyd saam met my pa en sy kollegas in die bedryf deurgebring as klein seuntjie. Ek dink dit het my erg geprikkel.

Vir watter optrede was jy al die meeste op jou senuwees?
AM: Dit gebeur soms. Kom ons kies die laaste een - die laaste opvoering van Land van Skedels op Oudtshoorn vanjaar.

Met wie het jy al die lekkerste saamgewerk in die toneelbedryf?
AM: Daar is baie mense wat dit 'n louter plesier maak. Ek wil amper sê elke toneelstuk wat ek doen, is pure pret.Die opnames van Vloeksteen was om baie redes baie bevredigend.

Teenoor watter akteur sal jy graag wil speel?
AM: Charlize Theron en talle Suid-Afrikaanse akteurs soos Andrew Buckland, Jamie Bartlett, Waldemar Schultz, Isadora Verwey en Petro van den Heever.

Aan watter toneelstuk het jy die lekkerste gewerk?
AM: Die waar ek regisseur was, nie akteur nie.

Wat was jou grootste uitdaging in die toneelbedryf?
AM: 'n Stuk waar dieselfde akteurs  terselfdertyd in twee stukke moes speel, met die stukke wat tegelykertyd speel. Die stukke speel rug aan rug met 'n gordyn tussenin, vir twee gehore wat voor hulle sit. Na pouse ruil die gehore om, en beide stukke speel weer, sodat die gehore sien wat agter aangegaan het.

Waarna sien jy uit in 2014?
AM: Ons verfilm hopelik 'n reeks, en 'n stuk van my besoek Innibos, die lekkerste fees.

Wat is jou 5-jaar plan?
AM: Ek gee dalk volgende jaar weer klas in opvoedkunde, en oorweeg om 'n honneurs daarin te doen. Ek het tot dusver net 'n HOD.

Wat is jou planne vir 2014?
AM: Behalwe vir die reeks en my besoek aan Innibos, is daar hope admin en beplanning vir die toekoms.

Wat was jou mees "embarrasing moment"  op die verhoog?
AM: Dit sou maar in die storielyn wees. Ek is gereeld embarrassed op ander plekke.

Watter raad kan jy vir jong mense gee wat die bedryf wil betree?
AM: Erf eers goed of kyk of jy nie familie in hoë plekke het nie.

Albert Maritz kan in 2014 gesien word waar hy die rol van Berto in Vallei van die Sluiers verder sal vertolk. Maritz kan ook gesien word by die Innibos fees.

No comments:

Post a Comment