Sunday 20 April 2014

KUNSTENAAR ONDERHOUD: JOSHUA NA DIE REËN deur Anna Grace


Joshua na die Reën is ‘n nuwe stem op die suid-afrikaanse musiek  mark wat ons land betower met sy unieke musiek. Die persoon agter Joshua na die Reën is Jacques de Villiers wat self die liriese musiek skryf en sing. Sy musiek is uiters uiteenlopend en van sy bekende liedjies is onder andere Lig op die Horison, Dra die liggies en Hardloop in die veld in. Joshua na die Reën verbaas jou met die uniekheid van sy musiek en met sy musiek wat glad nie tegnies aangepas is nie, kan jy nie help om nog te wil luister nie. Joshua na die Reën se musiek is gebaseer op persoonlik ervarings en is in ‘n klas van sy eie.  Ek het vir Jacques de Villiers ‘n paar vrae gevra oor sy rol in die musiekbedryf.

Wat is jou gunsteling fliek?
Jacques de Villiers: Lord of the rings, The Hobbit, Into the Wild en Nicholas Nicklebe.

Na watter musiek luister jy op die oomblik?
JdV: Coldplay, One Republic, Avicii en Brandi Carlisle.

Wat is jou gunsteling tydverdryf?
JdV: Ek geniet die buite lewe en die natuur. As ek kon, sou ek elke dag net tyd spandeer het om mooi plekke te ontdek.

Watter sport kyk/ speel jy graag?
JdV: Ek hou baie van draf en ek Scuba duik ook so nou en dan. Ek het nie ‘n TV nie, so ek kyk nie regtig sport nie, maar ek het baie respek vir mense wat goed is in sport!

As jy enige ander talent kon hê, wat sou dit gewees het?
JdV: uhm....haha, miskien sou ek mooi wou teken...en miskien break dancing.

Wat het jou laat besluit om te begin sing?
JdV: Ek glo 'n mens het 'n sekere roeping hier op aarde, elkeen sy eie unieke pad. Ek het van kleins af musiek baie geniet en ek was een die gelukkige kinders in die wêreld wie se ouers my drome raakgesien het en my daarin ondersteun het. Ek dink die wêreld stereotipeer baie as dit kom by wat die beste pad is om te volg in die lewe....skool...universiteit....'n goeie graad....werk...kinders..., en dit is asof ons almal begin glo het dit is die enigste pad. Ek is 'n groot voorstaander vir swot en trou, en kinders, maar ek dink as dit kom by wat jou drome is, dan is daar vir elkeen 'n unieke pad wat op die ou einde ook sal voorsien, indien mens hard werk daaraan!

Wie het jou geïnspireer om die sangbedryf te volg?
JdV: Daar is te veel mense wat my geïnspireer het, van kleintyd af, om hulle almal te noem, maar Arnold De Wet, Eugene Jensen, Micheal w. Smith, Hillsong, Jason Upton, my vriende op skool, eintlik amper almal. Ek het altyd probeer om my gevoelens om te sit in musiek, en daarom het almal in my lewe deel daaraan!

Vir watter optrede was jy al die meeste op jou senuwees?
JdV: My laaste klavier eksamen in my 4de jaar. Dit is erg as daar 4 van die beste pianiste in ons land sit en luister vir jou!

Wat was jou mees "embarassingste" oomblik op die verhoog?
JdV: Hahahaha...gelukkig was daar nog nie een nie, maar ek hoop daar kom een!

Saam met watter sanger sal jy graag wil sing?
JdV: Chris Martin van Coldplay.

Watter een van jou optredes was jou gunsteling?
JdV: Definitief op die strand by Gordons baai! Die son het gesak terwyl ons gesing het en dit was asemrowend!

Wat is jou grootste uitdaging in die sangbedryf?
JdV: Om aan te hou hard werk en om altyd te verbeter. Ek wil ook nooit my hart verloor en ophou skryf oor dinge wat my diep raak nie! 'n Mens kan ook vinnig moedeloos raak as jy vergeet wat jou pad is wat jy geroep is om te stap...

Wat was die grootste oomblik in jou beroep sover?
JdV: Toe ek uitvind ek is genommineer vir drie Ghoema toekennings. Dit was so onverwags, ek het nooit gedink dat dit sal gebeur nie. Ek het nie musiek begin maak omdat ek gedink het almal gaan daarvan hou nie, en ek voel baie bevoorreg as ek sien dat my musiek vir iemand iets kan beteken. Dit is seker die hoof rede hoekom ek musiek wil maak. As ek iets kan deel wat vir iemand iets kan beteken, dan voel alles die moeite werd.

Waarna sien jy uit in 2014?
JdV: Ons toer nou binnekort, ek en my band wat ook baie na vriende van my is. Ons toer van Margate af al teen die kus tot in Kaapstad. Ons begin 22 Maart en eindig 7 April. Ek sien regtig uit na elke optrede. Elke gehoor is anders en dit maak elke optrede vir my opwindend! Ek sien ook uit om te sien wat voorlê. Ek het al geleer...afwagting is baie beter as verwagting!

Wat is jou 5-jaar plan?
JdV: Ek besit nie so iets nie...die mens kan planne maak, maar ek het al gesien, vir my werk dit nie. (haha) Ek wag eerder en kyk!

Watter raad kan jy vir jong mense gee wat die sangbedryf wil betree?
JdV: Moet nie iemand anders probeer wees nie, jy moet jou storie aan die wêreld gee. Dit is al wat 'n tydlose impak sal hê, as jy doen wat in jou hart is sal die res verseker volg!

Joshua na die Reën kan in 2014 by verskeie plekke sien waar hy sal optreë saam met sy band. ‘n Mens kan hom ook bespreek vir enige funksie. Volg die volgende link vir meer inligting: http://www.joshuanadiereen.com/kalender/JNDR2014  

No comments:

Post a Comment