Friday 14 March 2014

AKTEUR ONDERHOUD: DANIE PUTTER deur Anna Grace

DANIE PUTTER



Danie Putter is bekend vir sy rolle in verskeie teaterproduksies onder andere Die dagboek van Anna Frank, Smokey Joes café, Straight Curl, Letsels, Mannekyn, Puppet Love, Huis op Horings, Life in the Fat Lane en Colour Atlas. Putter het in die televisie reekse Egoli, Erfsondes en Donkerland gespeel. Hy het ook in 2013 in die film Bakgat! tot die mag 3 gespeel waar hy die rol van Brüno Visagie vertolk het asook in die film As Jy Sing waar hy die rol van een van die militêre ape vertolk het.

Wat is jou gunsteling fliek?
Danie Putter: My gunsteling fliek op aarde is Jurassic Park. Ek dink nie ek het die 'Dinosaur' fase ooit ontgroei nie...ek dink ook nie ek gaan nie. Ha ha...

Na watter musiek luister jy op die oomblik?
DP: Ek luister op die oomblik na Ellie Goulding se album, Halcyon.

Wat is jou gunsteling tydverdryf?
DP: My gunsteling tydverdryf, daar is 'n paar. Ek hou daarvan om te lees, ‘series’ te kyk en om tyd op die plaas deur te bring. Ek kan ook nie sonder my ipod nie.

Watter sport kyk/ speel jy graag?
DP: Ek het bietjie rugby gespeel op skool, maar niks om oor te brag nie. Ek was nog nooit 'n sport mens nie, maar ek moes onlangs leer surf het vir 'n fliek en dit is 'n sport wat nogals die adrenalien laat vloei.

Wat het jou laat besluit om toneel te speel?
DP: Ek was nog altyd meer kultuur aangedrewe. Ek het omtrent elke jaar kunswedstryde gedoen en ek kom uit 'n musikale familie uit, so ek neem aan ek sou seker op een of ander manier as 'n ‘entertainer’ opgeeindig het. Ha ha...

Wie het jou geinspireer om die bedryf te volg?
DP: Daar was nie regtig iemand, wat gemaak het dat ek die loopbaan volg nie. Dit het maar net gebeur, dat ek dit gaan swot het.

 Vir watter optrede was jy al die meeste op jou senuwees?
DP: Ek was in 'n ATKV Produksie, Agent Snoet en die Hondelewe, en ons hele geselskap moes by die Media Veertjie Toekennings, so ‘n stuk doen, wat Liz Meiring geskryf het oor al die nominasies en so bietjie skinder ens. Ons moes dit voor baie van die industrie se grootname doen. Die dialoog wat ek toe moes sê, wou net nie in my kop bly nie. Daar was 'n spesifieke orde wat dit moes wees anders het dit nie sin gemaak nie. En met elke rehearsal voor die show, het ek dit verkeerd gesê, maar gelukkig, toe op die oomblik,  kom dit darem reg uit.

Met wie het jy al die lekkerste saamgewerk in die toneelbedryf?
DP: Daar is 'n paar, maar van akteurs is dit Jana Strydom en Anel Alexander. Hulle is twee talentvolle aktrises en as jy teenoor hulle speel, kry jy soveel uit hulle spel, dat jou spel ook net soveel beter is.

Teenoor watter akteur sal jy graag wil speel?
DP: Ek wil baie graag teenoor Anna Mart van der Merwe speel, in Erfsondes was sy my karakter se ma, maar sy het nie 'n verskyning in die laaste twee seisoene gemaak nie.

 Aan watter toneelstuk het jy die lekkerste gewerk?
DP: Definitief Bakgat 3! die movie, Donkerland & Ligte, Kamera, Liefde.

 Wat was jou grootste uitdaging in die toneelbedryf?
DP: My grootste uitdaging is maar om altyd weer op te staan en positief te bly, elke keer as jy nie die rol kry nie. Ha ha.

Waarna sien jy uit in 2014?
DP: Die verkiesings uitslae...ha ha.

Wat is jou 5-jaar plan?
DP: Die 5 jaar plan, is altyd 'n moeilike vraag in die industrie, maar ek en my beste pel begin 'n drama skool in Brits, my tuisdorp. Ons beplan om uit te brei met dit. Ons wil ook fokus op skryf en aan te hou met oudisies en al daai jazz.

Wat is jou planne vir 2014?
DP: Ek wag om te hoor van moontlike rolle waarvoor ek gaan oudisie het in die jaar en dan skiet ons 'n fliek in Mosambiek in Junie. Ek is ook deel van 'n groep Cortina, dinge begin stadig maar sal seker daar ook vlam vat, ons tree op die 14de Maart by die Pierneef teater in Pretoria op. Gaan volg ons ook op twitter by @CortinaPop en op facebook Cortina, daar is baie Cortina goed op Facebook, maar gaan net af jy sal ons daar sien.

Watter raad kan jy vir jong mense gee wat die bedryf wil betree?
DP: Dit is 'n industrie wat groei teen 'n vinnige pas, maar ons is nog 'n entjie van Hollywood salarisse af so as jy jou Range Rover wil ry, swot maar eers iets anders, doen 'n paar intense toneelspel kursusse & gee dit 'n kans. As jy die kunsinnige tipe is, gooi jouself in dit in en pak die bul by die horings...as jy 'n sukses wil wees, kan jy...dit hang alles van jouself af. Dit is maar so in enige beroep.

Danie Putter kan in 2014 in die fliek Pro, wat later in die jaar in die teaters verskein, as Dirkie gesien word.

No comments:

Post a Comment