Thursday 4 September 2014

AKTEUR ONDERHOUD: ANEL ALEXANDER deur Anna Grace


Aktrise en regisseur, Anel Alexander, is bekend vir haar rol in die televisie-reeks Getroud Met Rugby asook haar rol as Jackie in die film Semi-Soet wat groot sukses behaal het in die Suid-Afrikaanse filmbedryf . Sy het ook al in die films Faan se Trein, Klein Karoo en Discreet verskyn.  

Wat is jou gunsteling fliek?
Anel Alexander: Oe, daar is heeltemal te veel: Life is Beautiful, Amelie, Eternal Sunshine of the Spotless mind en Crash.

Na watter musiek luister jy op die oomblik?
AA: Cold Play en U2 bly altyd maar ou gunstelinge, maar ek luister ook op die oomblik na Elbow. Ek is ook mal oor broadway musicals, so daar is altyd een of ander musical in my kar bv. 'Wicked', 'These last 5 years', etc.

Wat is jou gunsteling tydverdryf?
AA: Kwaliteit tyd saam my familie, om my honde park toe te vat saam met my man. Movies is definitief my 'happy place'.

Watter sport kyk/ speel jy graag?
AA: Ek is lief daarvoor om hokkie te speel en om scuba duik as ek die kans kry. Om eerlik te wees, daar is heeltemal te veel goeie movies in die wêreld om te kyk so ek het nog nooit die begeerte gehad om sport te volg nie. Ek sal kyk as die Bokke speel of as daar Olimpiese spele is, maar dis omtrent dit.

Wat het jou laat besluit om toneel te speel?
AA: Ek dink ek wou heeltemal te veel goed word: 'n Forensiese sielkundige, 'n ruimtereisiger, die eerste vroue president van Suid-Afrika, en toneelspel laat my toe om te 'maak' of ek al daai goed is! Ek voel ook baie passievol oor die 'power of the medium of media' ,bv. films, TV, radio, tydskrifte, om mense te bereik, om stories te vertel en ook om gehore uit te daag. Dis hoekom ek en my man, James, ons produksie maatskappy, Scramble Productions, begin het. Ons wil graag films maak wat stories vertel wat mense sal uitdaag om anders na die wêreld en hulle omstandighede te kyk.

Wie het jou geinspireer om die bedryf te volg?
AA: My ouers het my nog altyd aangemoedig om na my drome te streef.

Vir watter optrede was jy al die meeste op jou senuwees?
AA: Teater, TV en film werk het verskillende tipes senuwees. As 'n jong aktrise het ek 'n rol in die Aardklop vertoning 'Bosryk' losgeslaan. Ek was nog baie jonk en onervare en dit was 'n verskriklike komplekse toneelstuk met ongelooflik baie props en fisikaliteit. Ons het min repitisie tyd gehad en dit was ook die eerste keer wat ek kans gekry het om teenoor 'n teater legende, Gys de Villiers, te speel. My senuwees was gedaan, maar dit was terselfdertyd ook die fantastieste teaterstuk waarvan ek nog ooit deel was.

Met wie het jy al die lekkerste saamgewerk in die toneelbedryf?
AA: Die crews en cast van 'Semi-Soet' en 'Faan se Trein' sal seker altyd 'n spesiale plek in my hart hê, maar eintlik is elke produksie waarop mens werk soos 'n familie.

Teenoor watter akteur sal jy graag wil speel?
AA: Meryl Streep, Kate Blanchet, Amy Adams, Al Pacino, Jake Gyllenhaal en Ryan Gosling

Aan watter toneelstuk het jy die lekkerste gewerk?
AA: Om op die stel te gewees het van 'Semi-Soet' en van 'Faan se Trein' was rerig vir my 'n amazing ervaring. Dit was van daai stelle waar almal net kon voel ons was besig om aan iets baie baie spesiaals te werk.

Wat was jou grootste uitdaging in die toneelbedryf?
AA: Ek dink om as jong akteur te besef SA werk nie soos Hollywood nie. As jy 'n akteur gaan word omdat jy sterretjies in jou oë het en dink jy gaan 'rich en famous' word, maak jy 'n groot fout! Daar is 'n wonderlike quote wat sê: "If you want to become an actor, don't. If you need to become an actor, do." Mens moet ook 'n dikvel ontwikkel om te leer hoe om al die 'rejection' te hanteer. As akteur verkoop mens nie stofsuiers of lewenspolisse nie, jy verkoop jouself, en as mense dan nie jou ware self wil hê nie, is dit baie moeilik om dit nie persoonlik op te vat nie. Mens leer wel vinnig, en mens moet vrede maak met daai deel van die industrie, andersins moet mens maar baie vinnig vir jouself 'n ander werk gaan soek.

Waarna sien jy uit in 2014?
AA: Hopelik bring 2014 vir ons nog Suid-Afrikaanse films wat die 'bar gaan raise'. Suid-Afrikaanse filmmakers het nou vir 'n geruime tyd kwantiteit gemaak, en dis nou tyd dat ons kwaliteit films begin vervaardig. As aktrise hoop ek ook rerig vir uitdagende rolle. So baie van die rolle wat ons aangebied word in SA is 'the girl next door' goeters en ek hoop rerig ons kan uitsien na bietjie meer uitdagende karakters.

Wat is jou 5-jaar plan?
AA: Ek wil graag meer internasionale werk begin doen as aktrise en as vervaardiger wil ek aanhou bydra tot die plaaslike filmbedryf, maar ook help om Suid-Afrikaanse films op die internasionale verhoog te kry.

Wat is jou planne vir 2014?
AA: As vervaardiger werk ek aan 'n paar nuwe film projekte en as aktrise hoop mens altyd vir lekker uitdagende werk. Daar is 'n paar filmrolle in die pyplyn, so watch this space...

Watter raad kan jy vir jong mense gee wat die bedryf wil betree?
AA: Jy moet jouself bestuur as 'n besigheid. Jy is 'n 'brand' en jy moet jouself bestuur en verkoop as sulks. Jy kan nie langs die foon sit en wag dat Steven Spielberg jou moet bel nie, gaan uit en skep vir jouself werk. My motto is 'Droom groot EN werk hard'. Van kleins af word ons geleer om groot te droom, maar niemand leer ons ooit met hoeveel harde werk en opofferings gaan daai drome gepaard nie. Niks in die lewe is onmoontlik nie, as jy bereid is om te werk daarvoor en die mense om jou met inegriteit behandel nie.

Alexander is tans besig met die verfilming van die film Mooirivier wat later in 2014 op die silwerskerm sal verskyn.

No comments:

Post a Comment