Tuesday 6 May 2014

AKTEUR ONDERHOUD: LOUW VENTER deur Anna Grace


Louw Venter is bekend as skrywer, komediant en akteur. Venter is bekend vir sy rol as Hertjie in Semi-Soet, Lukas in Konfetti, Hercules in Die Laaste Tango en Loki in Rugby Motors. Venter is ook bekend vir verskeie ander rolle in plaaslike films en televisie-reekse.  Venter het die kyknet televisie-reeks, Rugby Motors geskryf asook die film, Konfetti. Ek het vir hom ‘n paar vrae gevra oor sy rol in die toneelbedryf.

Wat is jou gunsteling fliek?
Louw Venter: Dit bestaan nie. Daar is 'n klomp reggiseurs, draaiboekskrywers, akteurs, komponiste en nog meer wat films maak, dat die vraag eintlik te groot is om te antwoord.

Na watter musiek luister jy op die oomblik?
LV: In my kar luister ek oor-en-oor Black Motion se Lazy song en ek het Andy Lund se nuutste album, Faster we Run op repeat in die huis.

Wat is jou gunsteling tydverdryf?
LV: Dit is maklik. Om saam met my kids en my vrou uit te hang. Daar is eintlik niks belangriker in die lewe nie.

Watter sport kyk/ speel jy graag?
LV: Ek was nooit 'n kranige atleet nie, maar ek is mal oor die krieket op die oomblik.

Wat het jou laat besluit om toneel te speel?
LV: Ek het geen idee nie. Ek het maar net begin en eers heelwat later eers gedink aan die feit dat ek dit iewers langs die pad moes besluit het. Ek voel mens word 'n kunstenaar omdat jy nie anders kan as om dit te wees nie.

Wie het jou geinspireer om die bedryf te volg?
LV: 'n Nederlandse teatergroep by name van Dogtroep wat  in 1995 in Johannesburg opgetree het, het my geïnspireer met hulle vermoë om die alledaagse in iets wonderbaarliks en anderwêrelds te verander. Ek kon nooit weer met dieselfde oë na die wêreld kyk nie. 

Vir watter optrede was jy al die meeste op jou senuwees?
LV: Ek het al 'n paar een-man teaterstukke geskryf en opgevoer. Wanneer die eerste nag se gehoor buite jou aantrekkamer gons terwyl jy jou stem warm maak, en jy besef dis net jy, op jou eensame eie, wat oor 'n paar minute op die planke gaan uitstap voor die ligte en daai mense, dan moet jy vasbyt, want dit is noggal scary.

Met wie het jy al die lekkerste saamgewerk in die toneelbedryf?
LV: Dis weer een van daai onmoontlike vrae, maar ek moet natuurlik sê, my tien plus jaar saam met die legendariese Rob Van Vuuren (Hy was Twakkie en ek was Corné ). Ons het baie sakke sout saam geëet deur die jare. Hy is nie sleg vir 'n kaboutertjie nie.

Teenoor watter akteur sal jy graag wil speel?
LV: Almal van hulle. Elke akteur bring iets na die partytjie toe.

Aan watter toneelstuk het jy die lekkerste gewerk?
LV: The Most Amazing Show met Corné en Twakkie was 'n eens op 'n leeftyd ding. Ons grootste live show ooit was vir agt duisend mense by Oppikoppi.  Agt duisend mense! Op die main stage vir 'n uur. Waar het jy al ooit van so iets gehoor in teater?

Wat was jou grootste uitdaging in die toneelbedryf?
LV: Om die konstante stres wat soveel rondreis op my lewe plaas te verwerk. Dit is nie net speletjies nie. Die film bedryf is eintlik baie veeleisend.

Waarna sien jy uit in 2014?
LV: Konfetti! Dis  'n fliek wat ek geskryf het en waarin ek die hoofrol speel so dis noggal 'n big deal vir my. Nico Panagio, Casey B Dolan, Kim Engelbrecht, Casper de Vries, Jana Strydom en nog 'n klomp ander amazing mense is in dit. Dit gaan oor Lukas Basson, 'n strooijonker wat sy beste vriend se troue organiseer maar ingewikkelde gevoelens vir die bruid koester, en 'n swakheid vir sjampanje het. Dit word uiteindelik 'n troue wat so mal is dis perfek. Ek werk al vir ses jaar om die fliek gemaak te kry, en ek dink dit gaan dood eenvoudig rock. Kom like ons op die Konfetti Facebook blad en kry al die skindernuus, kompetisies en ekstras voor die vrystelling. Dan is daar Kite waarin ek teenoor Samuel L Jackson verskyn saam met Deon Lotz onder andere en twee ander films later in die jaar. Dis ook heerlik vir my om te sien hoe Swartwater Dinsdae aande om 19:30 op SABC2 ontvou, en hoe mense reageer op die storie. Ek speel Francois Le Roux teenoor Jana Strydom wat my vrou, Karen Le Roux in die reeks vertolk. Dit is 'n baie swaar maar boeiende storie en ek was vir ses maanse weg van die huis om dit te skiet, so dit is baie opwindend om te sien hoe die storie gehore raak.

Wat is jou 5-jaar plan?
LV: Om aan te hou doen wat ek doen. Ek kan nie op die oomblik aan enigiets beter dink om te doen as wat ek reeds doen nie...

Watter raad kan jy vir jong mense gee wat die bedryf wil betree?
LV: Dit is eintlik baie hard hierbuite so jy kan net slaag as jy dit vir die regte redes doen. As jy voel jy wil toneelspeel omdat jy stories wil vertel wat mense gaan roer, is jy op die regte spoor. Dan is jy 'n kunstenaar en jy sal dinge doen wat selfs vir jou sal verras, maar as jy 'n akteur wil word en dit gaan vir jou oor op die voorblad van die Huisgenoot wees of die hoeveelheid followers wat jy het op Twitter het, dan lig jy dalk jou been teen die verkeerde boomstam. Daar gaan altyd stories wees om te vertel en karakters om te speel maar ongelukkig kan almal nie die gewildheidskompetisies wen nie, so jy moet seker wees van wat jou ware motiverings is.

Louw Venter kan in 2014 in die televisie-reeks, Swartwater gesien word. Sy nuwe film konfetti is ook op die silwerskerms in April.

No comments:

Post a Comment