Albert Maritz is bekend op radio, die verhoog, televisie en
ook films, nasionaal en internasionaal.
Hy is ook bekend as regisseur en
regisseer en vervaardig in 1996, sy eerste professionele produksie vir
televisie: “Groot, groter as.... van N.P. Van Wyk Louw”. Maritz het al in
verskeie films verskyn onder andere Invictus, Skoonheid, Verraaiers en The
Color of Freedom. Hy het ook in televisie-reekse verskyn soos Donkerland,
Vloeksteen, Arende en Vallei van die Sluiers. Ek het vir hom ‘n paar vrae gevra
oor sy rol in die toneelbedryf.
Wat is jou gunsteling
fliek?
Albert Maritz: Daar
kom elke paar jaar 'n fliek oor mens se pad wat mooi verfilm is, 'n sterk storie het,
sommer goeie akteursspel ook het en die magiese IETS wat mens se lewe aanraak.
So 'n fliek is vir my Slum Dog Millionaire, The Life of PI, Philomena en
Quartet en ook Pad na jou hart.
Na watter musiek
luister jy op die oomblik?
AM: Ek speel deur
al my ou kassette en daar is Art Garfunkel, Supertramp, Police en baie ander daarin.
Wat is jou gunsteling
tydverdryf?
AM: Ek is mal oor
lees en kry regtig min tyd daarvoor, fliek ook en oefen. Tans kry ek dit reg om
heelwat fiets te ry en een keer per week skopboks ek in 'n groepklas.
Watter sport kyk/
speel jy graag?
AM: Ek kyk graag
rugby, krieket, atletiek, swem en boks - veral as ek kan kant kies. As
Suid-Afrikaners selfs gholf speel teen ander lande, kyk ek. Self hou ek van touch
rugby, paddleski en sal ek enige iets probeer speel.
As jy enige ander
talent kon hê, wat sou dit gewees het?
AM: Om
instrumente te speel. Ek het 'n baie goeie oor vir musiek, maar kon nie musiek leer speel
nie.
Wat het jou laat
besluit om toneel te speel?
AM: Ek is aanvaar
by die Universiteit van Kaapstad om 'n kombinasiegraad te volg met wetenskap en tale, maar
toe kies ek om 'n drama onderwysgraad op Stellenbosch te doen.
Dit was na die weermag en ek en my skoolpelle was verwyder van mekaar
vir 2 jaar. Toe ek na universiteit 'n aanbod kry van Marius Weyers om by
TRUK te werk, was die koeël deur die kerk. Ek het my HOD deur UNISA
voltooi.
Wie het jou geïnspireer
om die bedryf te volg?
AM: Ek het baie
tyd saam met my pa en sy kollegas in die bedryf deurgebring as klein seuntjie. Ek
dink dit het my erg geprikkel.
Vir watter optrede
was jy al die meeste op jou senuwees?
AM: Dit gebeur
soms. Kom ons kies die laaste een - die laaste opvoering van Land van Skedels op
Oudtshoorn vanjaar.
Met wie het jy al die
lekkerste saamgewerk in die toneelbedryf?
AM: Daar is baie
mense wat dit 'n louter plesier maak. Ek wil amper sê elke toneelstuk wat ek
doen, is pure pret.Die opnames van Vloeksteen was om baie redes baie
bevredigend.
Teenoor watter akteur
sal jy graag wil speel?
AM: Charlize
Theron en talle Suid-Afrikaanse akteurs soos Andrew Buckland, Jamie Bartlett, Waldemar
Schultz, Isadora Verwey en Petro van den Heever.
Aan watter toneelstuk
het jy die lekkerste gewerk?
AM: Die waar ek
regisseur was, nie akteur nie.
Wat was jou grootste
uitdaging in die toneelbedryf?
AM: 'n Stuk waar
dieselfde akteurs terselfdertyd in twee
stukke moes speel, met die stukke wat
tegelykertyd speel. Die stukke speel rug aan rug met 'n gordyn tussenin, vir
twee gehore wat voor hulle sit. Na pouse ruil die gehore om, en beide
stukke speel weer, sodat die gehore sien wat agter aangegaan het.
Waarna sien jy uit in
2014?
AM: Ons verfilm
hopelik 'n reeks, en 'n stuk van my besoek Innibos, die lekkerste fees.
Wat is jou 5-jaar
plan?
AM: Ek gee dalk
volgende jaar weer klas in opvoedkunde, en oorweeg om 'n honneurs daarin te
doen. Ek het tot dusver net 'n HOD.
Wat is jou planne vir
2014?
AM: Behalwe vir
die reeks en my besoek aan Innibos, is daar hope admin en beplanning vir die
toekoms.
Wat was jou mees
"embarrasing moment" op die
verhoog?
AM: Dit sou maar
in die storielyn wees. Ek is gereeld embarrassed op ander plekke.
Watter raad kan jy
vir jong mense gee wat die bedryf wil betree?
AM: Erf eers goed
of kyk of jy nie familie in hoë plekke het nie.
Albert Maritz kan in 2014 gesien word waar hy die rol van Berto
in Vallei van die Sluiers verder sal vertolk. Maritz kan ook gesien word by die
Innibos fees.